Dag 11: As die wiele af kom, moenie kamp nie

Baie mense het ook al baie verloor in terme van gesondheid, werk, finansies...en dan ook lewensverlies. Vir baie mense het alles om hulle ineengestort. Dit is moeilik om oor die effek vanaf byvoorbeeld 2020 in die lewe van indiwidue te praat en te oordeel. Hoe kan ons regtig ten opsigte van mekaar weet of voel wat elkeen verloor het of steeds verloor.

Of wen! In terme van dinge soos geloof, en groei in menswees na God toe, en betrokkenheid by mekaar.

Wat doen mense as die wiele afkom? Of hulle lewensboot begin sink? Party vlug. Ander veg. Party sluit hulself toe in ivoor-torings. Ander hou eenvoudig op met glo. Of murmureer met die Here en almal om hulle.

Baie gelowiges haal Habakuk 3:17-18 aan en sê hulle hou daaraan vas: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees. Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.”

Sal jy regtig jubel as alles ineenstort ten opsigte van jou? Habakuk het aan die Here vasgehou in so ‘n tyd. Dit het hom nie blind gemaak vir die harde realiteite nie. Hy sê juis hy sal aanhou jubel ten spyte van die omstandighede. Hy dien die Here ten spite van en nie as gevolg van nie. Ons kan nie die Here dien omdat Hy ons seën nie. Ware geloof gaan verder as dit. Ware geloof dien die Here selfs al is daar geen uiterlike sigbare rede nie. Omstandighede moenie geloof bepaal nie. Is dit so met ons?

Dit vra werklike geestelike dapperheid om te bely wat Habakuk Bely, en dit te leef. Dit is baie makliker om maar net deel te word van die koor wat murmureer. Dit is makliker om te verwyt, of in selfbejammering rond te sit, as om ten spyte van wanhoop en aanvegtinge te bly glo. Ons weet ook dat dit ‘n feit is: Moeiliker lewensomstandighede maak dat baie hulle rusbank-geloof prysgee! Om God te loof en aan Hom vas te hou ten spyte van ons omstandighede is die groot uitdaging in die tyd waarin ons nou konkreet leef.

Hoe kry ons dit reg? Dit begin eers gebeur wanneer God alleen vir ons genoeg is! Jy het reg gelees. Lees dit weer. Wanneer die Here alles is en ons niks meer as sy teenwoordigheid in ons eie lewe begeer nie, dan is ons waar Habakuk dit met oortuiging kan sê as ‘n belydenis, en dit kan leef as ‘n getuienis! Dan raak ons vry van ons self-gerigte lewens waar ons verliese vir ons groter is as ons geloof en ons God. Ons moenie ons omstandighede gebruik as ‘n maatband om God se afstand van ons af te meet nie.

Dan het ons ons eie gode geword. Besoek ons web blad ons deel graag ‘n paar tappe hoe om nader aan God te kan beweeg al kom die wiele af.