Dag 12: Slegte dinge gebeur met goeie mense
- Kry jy swaar?
- Vir wie gee jy die skuld?
- Waarheen skree jy?
- Hoe lyk jou geloof?
Karre breek, mense word siek, vriendskappe duik in die hek, huise brand af, ‘n Motorfiets ryer op pad terug van ontbyt word wakker uit ‘n koma en sy vrou is dood. Die trok het die stop geskiep. ‘n Kind val uit ‘n boom op sy kop en is gestrem, ‘n man ry by sy erf uit en sien nie sy kind agter die voertuig…. en… en… en…
Ja, slegte, erg slegte dinge gebeur met goeie mense. Onthou tog net dat dit nie God is nie. Nee, God gebruik alle omstandighede waarin ek my bevind ter wille van myself. Ja, God is juis hier waar ek swaarkry, waar ek ly en nie meer kan nie.
Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?
Hierdie is ‘n eeu-oue vraag, wat handel oor die almagtige en goeie God in wie se teenwoordigheid daar steeds bose en slegte dinge gebeur, veral ook tussen sy eie goeie mense. Waarom laat Hy dit toe? Hy is dan ‘n God van liefde – dit is tog nie liefde om jou kinders te laat ly nie, ens. Deur die eeue is daar baie antwoorde gegee. Hier gaan ek net een of twee noem wat in die Bybel sentraal staan.
1. Jakobus 1 gee baie duidelik die antwoord, maar dit is nie maklik nie:
2. Die boek Job hanteer onder andere die vraag. Job was ‘n goeie man, verloor toe alles en kry baie swaar. Uiteindelik het dit weer goed met hom gegaan. Hy het juis geworstel met die vraag waarom hy as goeie, regverdige man so moet ly. Een ding wou hy nie aanvaar nie en dit is dat God hom gelos het. Nee, daar moet ‘n ander antwoord wees!
- Uiteindelik kom antwoord God hom, maar gee hom nie ‘n direkte antwoord nie. Hy wys vir Job die skepping en vra of Job daar was toe dit alles tot stand gekom het. Hy wys vir Job die diere – vra of Job ‘n krokodil vir sy dogter as speelding sal gee (dit is God se ‘speelding’), of waarom ‘n voël (volstruis) ‘n perd kan weghardloop, maar nie kan vlieg nie. Met ander woorde, As God werk, werk Hy ‘anders’ omdat Hy anders is.
- Wat Hy doen verstaan mense nie altyd nie. Ons moet besef, Hy is God en ons is mense. Daarom kan ons nie alles verstaan of verklaar nie en moet maar berus in die grootheid van God. Die belangrike punt is egter: Job se lyding was nie sommer vir niks nie.
- Aan die begin van die verhaal praat God met die duiwel wat God uitdaag – hy sê vir God dat Job huigel en God net vir die goeie dinge dien. Sodra God die goeie dinge wegvat sal Job vir God los. God stem nie saam nie en laat die duiwel toe om alles van Job af weg te vat. Op daardie oomblik het God sy eie eer, sy eie woord op die spel geplaas.
- As Job faal beteken dit God het misluk en was verkeerd oor Job – Satan was dan reg en het dan gewen. In sy lyding het Job eintlik ‘n geweldige vrag op sy skouers gedra, sonder dat hy dit besef het: hy het die eer van God op sy skouers gedra. Dit bevestig net weer: hoewel Job nie verstaan het waarom hy ly nie, kon hy as mens nie die groter plan van God raaksien nie. Hy het nie besef wat regtig aangaan nie. Vir ons vandag beteken dit dat ons nie alles sal kan verstaan of verklaar wat met ons gebeur nie. Ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy die groter prentjie sien. (Volledig op web blad)