Dag 16: Vrees vir die onbekende seisoene

Vrees vir die onbekende is ‘n vrees wat ons gereeld ervaar. Dit is die gevolg van negatiewe denke wat uit angs voortvloei. Ons dink dan selde aan wonderlike dinge. Die groot verskil is wat jy met daardie vrees doen wat ‘n bedreiging vir jou geluk is?

Gebruik hierdie vrees eerder as ‘n motivering vir jou groei. Die bekende gebed van Reinhold Niebuhr help ons om te onderskei:“Gee my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te maak.”

Pyn en trauma kan nie altyd vermy word nie, want dit is deel van die lewe. Wanneer jy die regte perspektief daarop het besef jy die bedoeling van die Here. Hy laat dit toe om jou geloof te suiwer of te laat groei.

Kommer is om geestelik rond te snuffel in dinge wat net God die antwoord het. As ons vrede wil ervaar sal ons tevrede moet raak met die onbekende. Dink net hoe vervelig sou die lewe gewees het as daar nie verrassings was nie of ons ons moes ontstel oor dinge wat in die toekoms sal gebeur.

Ons is iemand wat tog oppad is iewers heen. So kom ons sien uit na die toekoms. Vertrou God in alles wat gebeur, want Hy is by ons en daarom hoef ons niks te vrees nie. Deur Hom te ken is die enigste manier waardeur ons vrede kan vind met al die onbeantwoorde vrae in die lewe. God weerhou doelbewus inligting van ons sodat ons kan leer om Hom te vertrou. Wanneer ons die onbekende vrees vertrou ons God nie regtig nie.

Redenasies begin gewoonlik by verwarring. Daarom moet ons bid vir die nodige insig. Vertrou op God, want Hy sal op die regte ryd aan jou openbaar wat jy gevra het.

Ongelukkig is elke persoon verantwoordelik vir sy/haar eie besluite. Ons kan net bid vir hierdie persoon om sy/haar lewe in die regte rigting te draai.

Wanneer God nie iemand kan oortuig nie, kan ons verseker ook nie. Kom ons berus daar by dat ons nie die onbekende hoef te weet nie. Ons hoef nie alles te weet nie en dit wat ons moet weet sal Hy op die regte tyd aan ons openbaar.

Probeer die volgende: Beplan ‘n tipe beloning vir jouself wanneer jy ‘n vrees oorkom.

Berei jouself voor deur dit stap vir stap te hanteer.

  • Ken jou vrese
  • Kry die nodige ondersteuning
  • Doen selfmotivering
Probeer hierdie week vreesloos lewe.