Dag 23: Die fokus in ons kop

Jakob het hierdie beginsel gebruik: In Genesis 30 beraam Jakob ’n plan om ryk te word. Hy tref ’n ooreenkoms met Laban, sy skoonpa, dat hy al die gestippelde en bont beeste, skape en bokke as betaling kan kry vir sy dienste as herder.

Génesis 30:37-40 afr53 - Bible.com
Presies hoe dit gebeur het, is ’n raaisel, maar wat ons wel weet, is dat die kleur van die lammers en kalwers waarmee die beeste, skape en bokke dragtig geword het, bepaal is deur wat voor hulle oë was.

Vrug is van binne, gawes van buite
Die ‘vrug van die Gees’ (van Galasiërs 5) verskil van die ‘gawes van die Gees’. Gawes kom van buite, terwyl vrug van binne kom. Gawes word geskenk, maar vrug volg op bevrugting. Een ding is seker: die gawes van die Gees kan steeds openbaar word in mense sonder karakter. Inteendeel, Jesus gaan eendag aan baie mense met gawes sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af.“ Matt 7:23. Maar vrug is ’n ander storie.

Kies jou bestemming
Die vrug van die Gees groei slegs in diegene wat die heerlikheid van die Here aanskou – wat aan Sy beeld gelyk word, van heerlikheid tot heerlikheid. Jy sal bevrug word met dit wat jy voor oë hou. Dit is wat die Psalmdigter gesê het: “Ek stel die Here altyddeur voor my…” Ps 16:8 (1933-vertaling). In Hebreërs 12 tref ons hierdie woorde aan: “…die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” Jy sal by die bestemming aankom, waarna jy kyk. Jy sal word wat jy aanskou.

Die wêreld word toenemend meer soos dit wat dit aanskou, en ons ook. As jy wil weet wat jy die meeste aanskou, kyk net in die spieël. Wat deur jou oê gaan lê op jou hart. Jesus het gesê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” Matt 7:20.

“Let op jou gedagtes, dit word jou woorde; let op jou woorde, dit word jou dade; let op jou optrede, dit word jou gewoontes; let op jou gewoontes, dit word jou karakter; kyk na jou karakter, dit word jou lot.”

Elkeen van ons is besig om deur die dinge wat in ons kop aangaan, gevorm te word. Dit wat ons ons kop toelaat om oor te dink, is bepalend van wie ons op die ou end word. Soms kan die denke in ons kop ’n handbriek wees. As jy dink dat jy nie goed genoeg is nie, is die kans dat jy eendag bo gaan uitkom nie baie goed nie. As jy glo dat jy ’n wenner is, is die kans baie goed dat jy juis eendag die resies gaan wen.

Selfs die ou-ou waarhede in die Bybel bevestig dit. Kyk mooi na Spreuke 4:23 Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed. Ons moet besef dat ons gedagtes die rigting van ons geloof en selfs ons dade kan bepaal of beïnvloed. Ons gedagtes vorm die basis van ons lewe en is rigtingbepalend.

Die dinge wat ons toelaat om deur ons oë en ore ons brein te bereik, het ’n groot invloed op ons eie geluk. Van kleins af laat ons toe dat sekere inligting ons beïnvloed en ander weer nie. Ons filter elke stukkie inligting. Dit is egter dié wat ons toelaat om te bly en wat ons in een of ander file stoor wat bepalend op ons lewe is.
Daarom is dit so belangrik dat ons op die regte dinge sal fokus. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou.

En kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: Ons is almal skuldig hieraan. Ons is mos op die aarde. Ons moet tog leef. Daarom moet ons werk – ag na tien ure ’n dag. Dan is dit nog die familie wat ook tyd in beslag neem. So ja, ons hele wese word ingeneem deur die dinge hier op aarde. Dis half onmoontlik om nie besig te wees met die dinge hier op aarde nie.

Hoe nou gemaak? … Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Nee, ek dink nie ons moet almal nou in ’n klooster gaan sit en die heeldag net met God se dinge woel nie. Ons moet eerder vir Jesus meer betrokke maak in ons dag. Jesus wil in elke stukkie van jou dag saam met jou loop. Hy wil jou eintlik help om deur elke kruispad te stap. Hy wil vir jou wys watter deur jy moet oopmaak en so ook die wat jy liewers moet toehou.

Daarom moet ons die filters van die inligting wat ons toelaat, verstel, sodat ons meer van die dinge wat vir Hom belangrik is, toelaat. Ons moet ons fokus verskuif na God se dinge, want as dit meer in ons kop is, sal dit ook by ons mond begin uitloop. Dit sal ons hele wese oorneem en op die ou end sal ons dit wat vir God belangrik is begin doen.

Ongelukkig is hierdie nie ’n kitsoplossing nie. Nee, hierdie is ’n proses.

Mag God ons help om ons koppe te skuif sodat ons doen en late in lyn kan kom met die dinge wat vir Hom belangrik is.

Kolossense 3:1-4

  • Om oor na te dink?
  • Wat neem die meeste van jou tyd in beslag?
  • Wat bepaal jou gedagtes?
  • Waar moet jy veranderings aanbring?
  • Hoe kry jy jou focus terug op God?
  • Watter vrug dra jy?