Dag 25: Wat maak jy as mense jou teleurstel
Wat maak jy as mense jou teleurstel?
Wat maak ‘n mens as iemand jou in die rug steek? Wat maak jy as iemand vir wie jy respek het skielik iets doen wat jou diep teleurgesteld laat? As jou held of heldin voete van klei het?
Jy vergewe. Jy behou jou eie integriteit en waardes. Jy oordeel nie, want ons het almal foute. Maar, jy laat ook nie toe dat daardie persoon jou weer skade berokken nie. Soms is dit nodig om met ‘n skoon gewete ‘n vriendskap, verhouding of vennootskap te breek ten einde jouself en geliefdes te beskerm. En dan? Dan tel jy jou kop op, kyk die wêreld in die oë en hou aan om versigtig optimisties te glo in die goedheid van alle mense, ten spyte van die wet van die gemiddelde.
Moontlik het jy nodig om hierdie vandag te hoor sodat jy kan aanbeweeg. Jy onthou mos nog die storie van Jakob en sy broer Esau in Genesis. Jakob het vir Esau uit sy geboortereg bedrieg. Natuurlik was dinge daarna so sleg dat Jakob gevlug en by sy oom Laban gaan bly het in Haran.
Nadat beide Jakob en Esau in eie reg sukses gesmaaak het, het Jakob later versoening gaan soek. Hy het vir Esau ‘n klomp geskenke aangebied om die verhouding te herstel. Ons lees dat Esau vir Jakob vra: “En wat is jou bedoeling met al hierdie goed wat ek gekry het?” En Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.”
Esau het aanvanklik die geskenke tot versoening geweier, maar nadat sy broer Jakob aangedring het, het Esau sy geskenke aanvaar. Lees gerus die skrif aandagtig. Jakob sê nooit dat hy jammer is dat hy Esau se geboortereg gesteel het nie. Jakob wil deur die gee van geskenke vergoed vir wat hy gedoen het. Esau tree volwasse op wanneer hy sy verhouding met sy broer hoër ag as sy reg tot vergelding en sodoende word die familie verenig.
Wat is die les vir jou en vir my? Die persoon wat jou seergemaak het gaan moontlik nooit vir jou om verskoning vra op ‘n manier wat jy graag sou wou hê nie. God wil ook hê dat ek en jy geestelik volwasse moet optree. Ons kan nie bepaal wat ander aan ons doen nie, maar ons is in beheer van ons reaksie.
Indien jy aandring dat ‘n persoon op ‘n bepaalde manier, jou manier, verskoning moet vra, sal die verhouding dalk nooit herstel nie. Die gevolg sal wees dat jy vir atyd met ‘n wrok sal rondloop. Om ‘n wrok teen iemand te hou is soos om met ‘n warm kool rond te loop. Dit sal jou brand totdat jy dit neersit.
Moontlik wil jy hê dat jou man, vrou of kind, kollega, vriend of familid jou op ‘n bepaalde manier verskoning moet vra vir hulle gedrag, maar in plaas daarvan koop hulle vir jou ‘n geskenk of doen hulle iets vir jou. Reageer maar met genade eerder as om die manier waarop hulle dit doen te oordeel. Met ander woode, sluit die rekening en beweeg aan.
Die lewe is te kort en onseker om harde kwas te wees! Gesonde verhoudings is krities belangrik vir jou psige.