Dag 5: Verkeerde besluite se impak
Verkeerde besluite?
Die duiwel wil deurgaans ‘n rol in ons lewe speel.. Hy gee eenvoudig nie op om God se Naam oneer aan te probeer doen nie. Hy is die een wat steel en verwoes, en ons is die teikens! Daarom is ongehoorsaamheid aan die wil van die Here dikwels ‘n oorsaak van groot ellende. Wanneer jy te veel drink, en bestuur, en ‘n ongeluk maak, dan is dit deel van jou eie ongehoorsaamheid en nalatigheid. Dit is beslis nie God se wil vir jou nie.
Ons leef ook in ‘n stukkende wêreld. God het die wêreld goed geskep, maar die sondeval, die mens se keuse, het ernstige skade gebring, wat steeds voortduur. Hoewel God lig, aarheid, goedheid, liefde, en lewe verteenwoordig, het Hy ook vir elke mens die vryheid gegee om te kies. Dit is juis een van die hoofkenmerke van liefde.
Dit is nie afdwingbaar nie. Ons stuur dikwels self ons lewe in ‘n rigting met die besluite wat ons neem. Ons het byvoorbeeld die opdrag van die Here gekry om oor die skepping te heers en Hom daarin te verteenwoordig en te eer. Maar ons slaan ‘n vernietigende rigting in!
Nogtans!...kan jy weer by jou Vader gaan skuiling soek. Ons is nie aan die wrede noodlot uitgelewer nie. God draai nie finaal sy rug op ons as gevolg van ons gebrek aan insig en ons verkeerde besluite, of selfs ongehoorsaamheid nie. God belowe sy kinders dat hulle op sy beskerming kan reken in sonde-belydenis en vergifnis en genade.
Dit beteken nie dat dit nooit sal sleg gaan met gelowiges nie. Leef daarom doelbewus naby God. Dáár, naby Hom is jy veilig. En wanneer enige iets met jou mag gebeur, weet jy dat jy dit saam met jou Vader sal kan hanteer en oorwin. Moenie vra: “Hoekom, Here?” nie. Vra eerder: “Here, wat gaan U hiermee maak? Ek wil deel wees daarvan!” Die Bybel sê dat alles ten goede meewerk vir die wat die Here liefhet. Dit beteken nie dat die slegte dinge altyd eensklaps sal verander nie, maar dat daar goeie uit die slegte sal voortspruit. Met Christus se hulp is jy tot alles in staat!
2 Kor. 4:17: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”
- Kom by volle self verginnes en aanbeweeg uit?
- Hoe kom jy by self vergifnes uit?
- Hoe vul jy jouself daagliks?
- Hoe beweeg jy aan na ‘n terug slag?