Dag 6: Hoender en die Vark
Gal 2:19,20,21
Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.
Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.
Iemand het iewers gesê: Godsdiens kan gevaarlik wees. Daarby wil ek voeg dat dit ook baie misleidend kan wees. Toets jouself aan hierdie voorbeeld van iemand se vertelling:
Die vark loop verby die plaashuis waar die boer die oggend staan en koffie drink. Hy hoor hoe die boer aan sy vrou sê: Vrou, ek is vandag lus vir spek en eiers. Die arme vark stap toe die veld in en hy huil en huil. En so huil-huil stap hy verby die hoender en die hoender probeer hom troos en vra wat gebeur het.
Die vark vertel toe wat hy gehoor het die boer sê.
“Nou wat is so erg daaraan dat jy so huil?” Vra hoender. Ek moet gereeld vir die boer voorsien van kos vir sy ontbyt.
Vark sê: “ja, jy sal nie verstaan nie. As die boer spek soek, dan vra dit my lewe. As jy ‘n eier moet gee, is dit net ‘n gawe.”
Van jou vra dit net ‘n gawe, van my vra dit my lewe!
Jesus vra nie jou gawes en offers vandag nie. Hy soek jou LEWE.
Hoeveel mense is besig om net “eiers te lê”? Besig om met ‘n godsdienstige lewe ‘n lewende verhouding met God te omseil of na te boots. Is jy nog besig om met gawes die guns van die Here te koop of te ruil of jouself te kul. Dalk die godsdienstige goeters wat jy doen soos “kerk toe” gaan, bid, sing of preek. Leef jy dalk nog ‘n leuen, omdat jy so baie doen en gee? Dalk ‘n tipiese kulturele godsdiens wat so baie voorkom.
Die lewende verhouding met God word gekenmerk deur die dood. Eers Jesus se dood as versoeningsoffer. Dan jou dood waar jy sterf aan jouself en nou net in Hom leef. (Lees ook Rom.6)
Dis tyd om geslag te word. Die beloning daardeur is egter onmeetbaar groot: net ingeval jy dalk begin bekommerd raak het.
Dink daaroor. Diep en intens. Die Heilige Gees weet en sal jou bystaan.
Jy die varkie in situasies of die hoender?