Dag 9: Ek cope nie meer nie

Ek praat myself in ’n gat in

Iets wat ’n mens nie altyd besef nie, is dat jy gedurig besig is om met jouself in jou kop te praat, al is dit net in kort sinne of uitroepe soos “ag nee”, “sjoe” of so iets. As iets met jou gebeur, “vertel” jy jouself wat jy daarvan dink en wat gebeur het. Ons noem dit selfgesprek. In ’n sekere sin werk dit soos brein¬spoeling. Of wat jy dink nou reg of verkeerd is, jy glo jouself en jy reageer op grond van dit wat jy glo. Nou hang alles af van hoe jy met jouself praat. Jy kan die goeie of die slegte uit ’n saak haal en jouself dan daarvan oortuig. Neem die volgende voorbeeld: Die ou oom lê op sterwe. Hy roep sy vrou nader. Met sy mond teen haar oor fluister hy met sy laaste bietjie asem: “Sarie, jy was by my deur die groot depressie, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, jy was saam met my deur die vreeslike droogte op die plaas, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, en nou is jy hier by my doodsbed ook, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Maar dan lyk dit mos vir my of jý die een is wat al die ongeluk vir my bring,” sê hy.

Nou ja, dis hoe die oom dit sien. ’n Mens sou beslis ander afleidings ook kon maak, afhangende van hoe jy oor die saak dink.

Ongelukkig is dit so dat die meeste van ons eerder geneig is om negatief te dink as positief. Negatiewe denke en nega¬tiewe selfgesprek lei natuurlik tot sterk emosies. As ek dink dinge loop verkeerd, begin my hart klaar klop en voel ek klaar angstig en bang, want ek glo en vertrou myself mos. Party mense bekommer hulle ook oor alles. Hulle geliefde woorde is: “Sê nou net…?” of “Wat as … ?” Vir party mense is die lewe te swaar; die pad te lank en die opdraandes te steil.

Hierdie soort selfgesprek kan natuurlik vernietigend wees. Jy kan jouself die hele tyd wysmaak dat jy nie cope nie en dit dan nog glo ook. Die werklikheid mag heeltemal anders wees, maar jy wil dit nie glo nie. Al een wat te blameer is vir hierdie gat waarin jy jouself praat en die moeite wat jy het om kop bo water te hou, is jyself. Dit is eintlik jou eie skuld as jy voel jy cope nie. Meer daaroor in ’n latere hoofstuk.

Om as Christen hoop te verloor of handdoek in te gooi beteken om die deur in God se gesig toe te slaan. 1 Petrus 5:7 (p. 775) sê nie verniet nie: “Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.” Die lewe is nie sonder versoekings wat ons wil wysmaak dat ons nie kan cope nie. Petrus verduidelik: In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg. Moe¬nie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie … Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het … (dele uit 1 Pet. 5:8).

Moenie die Here onderskat nie. Dit klink nou na ’n van self sprekende opmerking, maar dit is baie soos ’n troubelofte. Baie mense sê: “Tot die dood ons skei,” maar skei voor die dood. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. So sal alle Christene vir jou sê dat die Here kan help, maar laat hulle net in ’n krisis kom, dan is dit ’n ander storie. Dan wag jy tevergeefs – so tussen die woede- en depressie-aanvalle deur – vir daardie persoon om tekens daarvan te toon dat hy darem ook ’n Christen is.